Niekie Meiring se vennoot laat haar in die steek met 'n projek wat hulle saam daar suid van die Krugerwildtuin sou aanpak. Boonop het hy 'n koper vir hulle besigheid en wil in 'n ander land gaan werk. En reken nou net, sy het gedink hy gaan haar vra om met hom te trou. Toe nie.
Haar ontvangs by die Du Preez lodge is nie baie warm nie. Meneer Blignaut, die projekbestuurder het 'n man verwag.
Sy kan net raai wat sy reaksie sal wees as die trok boonop haar deel van die Des Art onderneming op die lodge se perseel kom aflaai, want waarheen moet sy anders daarmee gaan. Die dat sy toe maar huis koop. Ietwat oorhaastig. Maar dit is naby en cheap. Oorkant die straat. Sy kan werk toe stap.
Behalwe dat sy net daarna tot haar skok agterkom dat daar iets of iemand saam met haar in die huis is en boonop in die tuin rond dwaal...